Ma wat kinders in motor los kry borgtog
2011-12-13 14:43
Johannesburg – Die 34-jarige vrou wat na bewering haar twee kinders by 'n winkelsentrum in 'n motor gelos het, is op borgtog van R2 000 vrygelaat, het die polisie Dinsdag gesê.
Shelly Khumalo moet weer op 9 Januarie in die landdroshof op Vereeniging verskyn, het kapt. Shado Mashobane gesê.
Khumalo het verlede Donderdag omstreeks 14:00 by die River Square-winkelsentrum met vier kinders opgedaag en 'n ses maande oue baba en 'n tweejarige in die motor gelos
Sy is gearresteer en van kinderverwaarlosing, verset teen inhegtenisneming en aanranding van 'n polisiebeampte aangekla.
Motorwagte het paramedici in kennis gestel. Paramedici het die venster van haar swart BMW gebreek om die twee erg gedehidreerde kinders te red.
Die vrou het 'n polisiebeampte bygedam toe sy die gebreekte venster sien.
Die kinders is na die Midvaal-hospitaal gehaas vir 'n mediese ondersoek en is later in die sorg van hul ouma en oupa ontslaan.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA