Ma wat glo kinders vermoor se saak uitgestel
2012-01-18 18:56
Johannesburg – Die saak teen ‘n vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar vyf kinders vermoor het, is Woensdag in die Pampierstad-landdroshof in Noordwes uitgestel, het ‘n beampte van die hof gesê.
Eric Moribe, klerk van die hof, het gesê die 35-jarige Venolia Siwa sal na verwagting weer op 8 Februarie in die hof verskyn. Sy was nie aanwesig by Woensdag se verrigtinge nie.
“Die saak is in haar afwesigheid uitgestel. Sy word nog by Weskoppies in Pretoria geëvalueer. Die hof wag vir die dokumente voordat daar met die saak voortgegaan sal word.”
Siwa is in hegtenis geneem nadat die lyke van haar kinders, tussen twee en 13 jaar oud, op 17 Oktober by ‘n huis in Lower Majeakgoro gevind is.
Sy het hulle na bewering verdrink toe sy gedink het ‘n brousel wat sy hulle ingegee het, werk nie vinnig genoeg nie.
Die hof het beveel sy moet 30 dae lank by ‘n psigiatriese instelling geëvalueer word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA