Ma vrees nou wraakaanval
2012-01-04 08:33
Kaapstad – Zulpha Jacobs (30), vermeende moordenaar van haar tweejarige seun, Taariq, is so bang dat die gemeenskap haar in ’n wraakaanval kan doodmaak dat sy verkies om eerder in aanhouding te bly.
Boonop verwag Jacobs dalk nog ’n kind, maar verdere mediese toetse moet gedoen word om dit vas te stel.
Die 30-jarige ma het gister in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord op Taariq, wie se lyk Saterdagmiddag in ’n vlak graf op ’n duin agter die Primêre Skool Imperial in Beacon Valley gekry is.
Volgens ao. November Filander, polisiewoordvoerder, het sy Saterdag erken dat sy haar kind doodgemaak het.
Sy moet egter nog op die amptelike aanklag pleit. Jacobs sal nie om borgtog aansoek doen nie.
Abses in bors
Haar regsverteenwoordiger, Theo Hartsenberg, het gesê Jacobs voer aan sy is weer swanger.
Die staatsaanklaer, Leaticia du Plessis, het in die hof gesê ’n mediese sertifikaat bewys sy is nie swanger nie.
Hartsenberg het verder gesê die dokter wat die toets gedoen het, het gesê dit is te vroeg om vas te stel of sy swanger is.
“Die dokter sluit nie die moontlikheid uit dat sy swanger kan wees nie.”
Dit is een van die redes waarom Hartsenberg versoek het dat sy in die mediese eenheid van die Pollsmoor-gevangenis gehou word.
“Die ander rede is dat sy ’n groeiende abses in haar bors het wat verwyder moet word.”
Hartsenberg het gesê daar word ook vir haar lewe buite en selfs binne die tronk gevrees.
Du Plessis het gesê indien daar ’n aansoek om borgtog is, sal die staat dit teenstaan om haar te beskerm en omdat die aanklag teen haar ernstig is.
Landdros Tom Cloete het die saak tot 9 Januarie uitgestel en gelas dat die beskuldigde in die mediese eenheid van die tronk opgeneem word.
Jacobs het die halfuur wat sy in die hof was geboë in die beskuldigdebank gestaan.
Sy het haarself heeltemal bedek met ’n kopdoek en ’n grys-en- pienk baadjie met ’n kappie.
Sy het die kappie oor haar kop getrek sodat niemand haar gesig kon sien nie. Sy het stip voor haar uitgestaar en soms afgekyk.
Filander het gister gesê die polisie se ondersoek na die dood van nog twee van haar kinders is in ’n baie vroeë stadium.
Goeie onderwyser
“Omdat dit nog aan die begin is, is sy die enigste verdagte, maar die moontlikheid van ander verdagtes word nie uitgesluit nie.”
Buite die hof was daar ’n chaos tussen strydende groepe. Die een groep het haar krediet gegee omdat sy ’n goeie kleuterskoolonderwyser was. Die ander het geskree sy is “gevaarlik” en moenie borgtog kry nie.
Nog polisiebeamptes is ingeroep om bykomende veiligheid te verskaf in die gange van die hof, waar baie mense saamgedrom het. Slegs die media is in die hofsaal toegelaat.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger