Ma verheug dat ontvoerde baba veilig is
2012-02-08 09:01
Ügen Vos en Gerhard Pretorius
Johannesburg – Die baba wat Maandag deur vermoedelik sy Zimbabwiese oppasser ontvoer en vir ’n losprys van R45 000 aangehou is, is veilig terug in sy ma se arms.
Mita Marobe (33) het Dinsdag vertel hoe sy in trane uitgebars het toe sy saam met die polisie by ’n crèche in Hillbrow, Johannesburg ingestap en haar ses maande oue seuntjie, Kgosietsiele, ongedeerd daar sien.
“Toe ons by die crèche instap, het ek baie emosioneel geraak, maar dit was nie trane van hartseer nie – ek was net baie bly en verlig,” het Marobe gesê.
Jacob Gavau (36), Kgosietsiele se pa, het gesê hy is baie dankbaar dat hulle Kgosietsiele terug het, maar wou nie verder met die media praat nie.
Kgosietsiele se oppasser, wie se naam om wetlike redes nie verstrek mag word nie, is nog voortvlugtig.
Genl.maj. Tebello Mosikili, adjunk- provinsiale kommissaris van die polisie se speurdienste in Gauteng, sê hulle is op die vrou se spoor en dat sy voorlopig van afpersing, ontvoering en diefstal aangekla sal word sodra sy aangekeer is.
Die polisie het Maandag ’n intensiewe soektog na Kgosietsiele aan die gang gesit. Die oppasser het blykbaar die baba gisteroggend by die crèche afgelaai.
Sy het daarna glo ’n SMS-boodskap met die crèche se nommer aan lede van Marobe se familie gestuur.
Volgens Mosikili het die oppassers by die sentrum hul volle samewerking aan die polisie gegee in hul ondersoek.
Marobe, ’n verpleegster wat in Hesteapark in die noorde van Pretoria werk, het eergister vertel hoe sy Maandag vroegoggend besef het Kgosietsiele is nie meer in die kamer by haar nie.
Die oppasser het blykbaar Marobe, haar suster en dié se kinders in die huis toegesluit en met albei huissleutels verkas. Die opsigter van die kompleks is later ontbied om vir hulle oop te sluit.
Die oppasser is glo vort met onder meer Marobe se handsak, beursie, selfoon en meer as R5 000 kontant. Sy het later per SMS aan Marobe se suster gesê sy soek R45 000 as hulle Kgosietsiele weer wil sien.
Volgens inligting het sy later die losprys afgebring na eers R5 000 en toe R2 000.
Die oppasser het ook probeer om toegang tot Marobe se bankkaarte en PIN-nommers te verkry.
Marobe het die oppasser sowat vier maande gelede deur ’n agentskap aangestel en sê sy was so te sê deel van die familie.
“Ek het die agentskap se nommer deur ’n vriendin wat ook van hul dienste gebruik maak, gekry,” het Marobe gesê.
Marobe het gesê die werkverskaffingsagentskap het hulle sedertdien bygestaan en baie gehelp, veral om met die polisie te skakel.
“Sy (die oppasser) het nie vir my soos ’n geldgierige persoon gelyk nie, sy was baie vriendelik en het ’n goeie geaardheid gehad ... Sy was soos ’n lid van die gesin, ons het haar vertrou. Ek verstaan nie wat haar kon motiveer om so iets te doen nie ...”
Volgens Marobe het die oppasser die gesin oor die feestyd tydens ’n besoek aan haar familie op Brits in Noordwes vergesel en het Marobe se suster dié vrou selfs genooi om weer te kom kuier.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad