Ma vergiftig self, kinders
2010-12-05 14:36
Johannesburg – ‘n Ma met selfmoordneigings het glo probeer om haar twee kinders te vergiftig voordat sy haar eie lewe wou neem, het nooddienspersoneel Sondag gesê.
Die voorval het Sondagoggend omstreeks 11:30 by die familie se huis in Freedom Park, suidoos van Johannesburg plaasgevind.
Volgens Percy Morokane, ‘n woordvoerder, het die kinders se pa gehoor hoe sy 28-jarige vrou skree dat sy ‘n einde aan haar lewe wou maak. Die man het toe ook gesien dat sy kinders in pyn is.
“Hy het die buurmense gevra om die nooddienste te bel. Die man se vrou het toe ‘n stukkende bottel geneem en gedreig om haarself te steek indien hy naby aan haar sou kom.”
Die vrou het glo vir haar kinders, ‘n tweejarige seun en vyfjarige meisie, plaagdoders ingegee en het ook self daarvan geneem.
Met die nooddienste se aankoms op die toneel was die kinders in ‘n kritieke toestand.
“Die vrou was baie aggressief en geweldadig. Die polisie is toe ingeroep en sy is deur hulle weggeneem.”
Die kinders is na die Chris Hani Baragwanath hospitaal geneem en is in ‘n stabiele toestand.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA