Ma verdwyn met baba
2012-01-22 07:02
Kaapstad – ’n Ma het spoorloos met haar babadogtertjie verdwyn nadat die hof beveel het die kind moet teruggaan na haar pa en ouma.
Evert Potgieter (35) en sy ma, Susan Potgieter (58), het Saterdag Durban toe gevlieg om klein Isabeau (17 maande) te gaan haal.
Die Kaapse hooggeregshof het Vrydag beslis Marelize Potgieter (31) het haar dogter onwettig Durban toe gevat en die kind moet teruggaan na haar pa en ouma.
Toe mnr. Potgieter en sy ma egter in Durban aankom, was Marelize Potgieter en Isabeau nêrens te vinde nie.
Teen druktyd het niemand geweet waar sy haar bevind nie.
Mnr. Potgieter sê hy het gehoop die afgelope twee maande van vrees, woede en hartseer is verby met die hofuitspraak. Die Potgieters is besig met ’n egskeiding.
Marelize Potgieter het Isabeau in November uit Kaapstad na Durban geneem onder die voorwendsel dat hulle “vir ’n kort kuiertjie” na haar ouers gaan.
“Ek het gedink ons kleinding kom huis toe, waar sy hoort,” het mnr. Potgieter oor die hofuitspraak gesê.
Susan van Aswegen, regsverteenwoordiger van mnr. Potgieter, het die hof oortuig Marelize Potgieter het haar kind ontvoer, hoewel sy wetlik toesig oor die dogtertjie het.
“Dit is hoogtyd dat mense besef ’n kind is nie altyd beter af aan mamma se roksoom nie.
“Pa’s moet weet dat hulle net soveel regte het. Hulle moenie bang wees om dit uit te oefen nie.”
Volgens Van Aswegen was mnr. Potgieter onwillig om Marelize Potgieter toe te laat om met Isabeau weg te gaan.
Sy het ’n retoerkaartjie gekoop, maar het uit Durban laat weet sy en hul kind kom nie terug nie.
Mnr. Potgieter sê sy dogter is “sy hele bestaan” en hy is bekommerd oor haar welstand as sy by haar grootouers in Durban en onder haar ma se sorg sou bly.
Luidens hofdokumente het Marelize Potgieter beweer dat haar eie ouers haar emosioneel en fisiek mishandel het en dat haar pa haar gemolesteer het toe sy ’n kind was.
Haar pa is wel weens molestering gearresteer.
Sy het ook in 2009 ’n beskermingsbevel teen haar eie ma gekry omdat dié glo haar en haar kind uit ’n vorige huwelik aangerand het.
Van Aswegen sê me. Potgieter het ’n geskiedenis van alkohol- en dwelmmisbruik, en dit het bygedra tot die hof se besluit.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport