Ma vasgebind, baba byna ontvoer
2010-01-28 07:02
Virginia Keppler
Johannesburg - ’n Ma van Weltevredenpark in Roodepoort is met ’n mes gesteek terwyl sy aan haar baba se voete vasgeklou het om te keer dat ’n aanvaller hom ontvoer.
Dít terwyl sy met ’n tou om haar nek aan ’n boom vasgebind was.
Die 25-jarige ma het verlede Dinsdag met haar 20 maande oue baba na ’n kleuterskool geloop om haar ander seuntjie (4) te gaan haal toe ’n man haar sowat 500 m van haar huis oorval en ’n mes teen haar rug gedruk het.
Die vrou wil anoniem bly uit vrees dat haar aanvaller haar sal opspoor.
Hy het haar beveel om saam met hom tot in ’n afgesonderde deel van ’n parkie te stap.
“Ek het gedink as ek saamwerk en hy kom agter dat ek niks van waarde het nie, sal hy ons laat gaan. Maar toe ons in die parkie kom, het hy my met ’n tou aan my nek aan ’n boom vasgebind.
“Hy het my deursoek, my betas en sy hande voor by my bors ingedruk.”
Die ma het gesê die aanvaller het haar kind uit die stootwaentjie langs haar gehaal.
“My kind het begin skreeu en ek het hom aan sy voete gegryp.
“Hy het gesê: ‘Los die kleintjie’ en my met die dood gedreig, maar ek het aan my kind se voete vasgeklou. Toe steek hy my in die arm.”
Sy het begin skreeu. ’n Man wat in die omgewing was het nader gehardloop.
“Die twee mans het mekaar gegryp en gestoei terwyl ek steeds aan my kind se voete probeer vashou het. Sy voete het uit my hande gegly en terselfdertyd het die man hom gelos. Hy het hard op die grond geval en sy kop gestamp.
“Die ander man het geskreeu: ‘Take your baby and run!’?”
Sy het eers gesukkel om die tou om haar nek los te maak.
“Toe gryp ek my kind aan sy hemp van die grond af met my een hand en die stootwaentjie met my ander hand en hardloop in die rigting van die kleuterskool.
“Daar het twee pappas in hul voertuie gespring en na die toneel gery, maar daar was niemand toe hulle daar kom nie. Hulle het net die tou en my kind se bottel gekry.”
Die vrou het erge skade aan die senuwees en weefsel in haar arm opgedoen en het 12 steke gekry. Haar baba het niks oorgekom nie.
Die ma moes glo meer as 20 minute wag voordat ’n polisieman met ’n “traak-my-nie-agtige” houding haar verklaring afgeneem het.
Insp. Karen Jacobs, woordvoerder van die Honeydew-polisiekantoor, het bevestig die polisie ondersoek ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
- Beeld