Ma van vermoorde kinders steeds soek
2010-07-31 13:35
Pretoria - Polisie in Pretoria was Saterdag steeds op soek na die ma van twee meisies wat dood aangetref is in hul huis in Theresa Park.
"Sy is nog nie gevind nie, ons soek steeds," het konst. William Mahlaole gesê.
Op vrae oor die moontlikheid dat die vrou ontvoer is, het Mahlaole gesê enigiets is moontlik, aangesien haar huis deurmekaar gelaat is.
Die lyke van 'n vier jaar oue meisie en haar agt maande oue suster is deur 'n vriend van haar ma gevind toe sy die huis Vrydag besoek het.
Die kinders se ma en haar motor was nêrens te vinde nie.
Beeld het Saterdag berig dat die vrou die eggenote was van die neef van die voormalige minister van provinsiale en plaaslike regering, Sydney Mufamadi.
Haar man is Februarie in 'n motorongeluk dood.
Volgens Mahlaole lyk dit of die vierjarige meisie verdrink is, aangesien daar water was in 'n bad naby die lyk.
Die baba is waarskynlik versmoor met 'n hoed wat steeds op haar gesig gelê het toe die polisie by die huis aangekom het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA