Ma van vermiste baba gearresteer
2010-10-06 05:09
Johannesburg - Die ses weke oue baba van Khayelitsha wat vroeër as vermis aangemeld is, is Dinsdag gevind en sy ma is in hegtenis geneem, het die Wes-Kaapse polisie gesê.
"Die deurbraak het gekom nadat drie gemeenskapslede die beeldmateriaal op televisie gesien het. Die drie vroue het dadelik die ma van die baba herken en besef sy het die baba tussen die hutte geneem en sonder hom teruggekeer," het kapt. Anneke van der Vyver gesê.
Die drie vroue het die inligting aan die polisie deurgegee wie op hul beurt die 18-jarige ma ondervra het.
"Nadat die polisie die 18-jarige ma ondervra het, het sy hulle na die plek geneem waar sy die baba agtergelaat het. Sy liggaam was met 'n geriffelde staalplaat bedek," het Van der Vyver gesê.
Die babaseun, Simamkele Baleni is ongeveer 21:30 in die informele nedersetting gevind.
Die ma is gearresteer en sal binnekort in die hof op aanklag van moord en meineed verskyn.
Die ma het vroeër vir Baleni as gesteel aangemeld. Sy het beweer sy het hom aan 'n vrou oorhandig wat aangebied het om hom vas te hou terwyl sy die toilet by die daghospitaal in Khayelitsha gebruik.
Die vrou het glo aan haar gesê die toilette is baie vuil, maar toe sy terugkeer was die vrou en haar baba skoonveld.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA