Ma sny baba se keel af in ambulans
2010-12-06 06:53
Volksblad
Steynsrus – ’n Ma van Steynsrus het na bewering binne minstens twee uur nadat sy geboorte gegee het, haar pasgebore kind se keel afgesny.
Die ma het haar kind glo vermoor agterin ’n ambulans op pad na ’n Kroonstadse hospitaal.
Maselela Langa, woordvoerder van die polisie op Kroonstad, het gister gesê met die ambulans se aankoms by die Boitumelo-hospitaal was die kind reeds dood.
Volgens Langa het die ma by haar huis op Steynsrus geboorte geskenk.
Weens ’n mediese probleem ná kraam moes die ma dadelike hospitaalbehandeling kry.
’n Ambulans is ontbied en die ma en baba is vervoer.
Die uitslae van ’n nadoodse ondersoek sal toon met wat die kind se keel gesny is.
Na verneem word, is dit ’n stuk mediese apparaat wat agter in die ambulans was.
Dié ondersoek is Vrydag gehou. Die besonderhede sal na verwagting vandag bekend wees.
Langa sê die ma is steeds in die hospitaal.
’n Klag van moord word ondersoek en met haar ontslag sal sy daarvan aangekla word.
Haar naam word weerhou omdat sy nog nie in ’n hof verskyn het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad