Ma in hof ná sy kinders in motor los
2011-12-12 10:36
Johannesburg – 'n Vrou wat na bewering haar twee kinders by 'n winkelsentrum in 'n motor gelos het sal na verwagting Maandag in die Vereeniging-landdroshof verskyn.
Die vrou het Donderdag omstreeks 14:00 by die River Square-winkelsentrum met vier kinders opgedaag en 'n ses maande oue baba en 'n tweejarige in die motor gelos, het kapt. Shado Mashobane gesê.
Motorwagte het paramedici in kennis gestel. Paramedici het die venster van haar swart BMW gebreek om die twee erg gedehidreerde kinders te red.
"Hulle het 'n tekort aan suurstof gehad," het Mashobane gesê.
Die vrou het 'n polisiebeampte bygedam toe sy die gebreekte venster sien.
Die kinders is na die Midvaal-hospitaal gehaas vir 'n mediese ondersoek en is later in die sorg van hul ouma en oupa ontslaan.
Die vrou staan tereg op aanklagte van kinderverwaarlosing, verset teen inhegtenisneming en aanranding van 'n polisiebeampte.
Sy het die naweek in polisieselle deurgebring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA