Ma haar seun kwyt op moedersdag
2010-05-10 06:52
Johannesburg – Die ma van ’n jong motorfietsryer moes op Moedersdag in Centurion ondersteun word op die toneel waar haar seun kort tevore in ’n motorfietsongeluk dood is.
Die 21-jarige motorfietsryer is op slag dood toe hy op die hoek van Ou Johannesburg- en Heuwelsigweg in ’n Toyota
Yaris vasgery het.
Die slagoffer, wie se naam nog nie bekend gemaak kon word nie omdat al sy naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie, se ma en sy verloofde het mekaar op die toneel ondersteun.
Volgens Netcare 911 het albei vroue traumabehandeling ontvang.
Chris Botha, woordvoerder van dié nooddiens, het gesê die voorval het omstreeks 12:50 gebeur.
Botha het gesê toe nooddienswerkers by die toneel opdaag, het hulle die motorfietsryer in ’n bedenklike toestand in die pad naby sy motorfiets aangetref.
Die insittendes van die motor het ernstige beserings vrygespring.
Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van strafbare manslag is by die Wierdabrug-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Die motorfietsryer het glo in Ou Johannesburgweg na Pretoria te ry toe hy die Yaris getref het wat wat glo dwars oor die pad en voor hom ingery het.
Volgens die polisie sal bewerings ondersoek word dat die motorfietsryer nie by ’n verkeerslig stilgehou het nie.
Die verkeersligte was volgens die polisie buite werking.
– Beeld
- Beeld