Ma gooi kind glo in puttoilet
2009-12-10 07:48
Maygene de Wee
Philippi - Twee spanne polisieduikers het gister vergeefs in ’n puttoilet gesoek na die lyk van ’n 18 maande oue peuter nadat haar ma gisteroggend gesê het sy het die kind daarin gegooi. Die peuter, Mina Jarvis, is glo twee maande laas gesien.
Die struktuur van die puttoilet op die plaas Vredendal by Philippi is afgehaal om die taak te vergemaklik.
Insp. Etienne Conradie, ’n Philippi-polisiewoordvoerder, het gesê Mina se ma, Willemina Jarvis (26), het gisteroggend gesê sy het die kind in die put gegooi. Sy kon egter nie sê wanneer sy dit gedoen het nie.
Jarvis is Maandagmiddag in hegtenis geneem en is van moord aangekla. Sy verskyn vandag in die Wynberg-landdroshof.
Conradie het gesê hulle sal haar nou weer ondervra en weer na die lyk soek.
Gister het Christo Schultz, die eienaar van die plaas, die ellende waarin die babadogtertjie grootgeword het, beskryf.
Hy het gesê hy en sy vrou het dit telkemale oorweeg om Mina self groot te maak omdat sy glo baie verwaarloos was. “In my hart het ek geweet dat sy nie eens twee jaar gaan maak nie,” het hy gesê.
“Die ma was konstant dronk en het selfs die kind dronk gemaak,” het hy gesê.
Schultz het gesê die kind is al twee maande soek. Jarvis het hom glo elke keer ontwyk wanneer hy na Mina gevra het.
“Ek het haar een Saterdagaand uitgeskel nadat ek by haar woning was en gesien het die kind is dronk. Sy kon nie eens haar ogies beweeg nie.”
Hy het gesê sy het toe die kind gevat en geloop. “Later het die werkers kom sê sy het met Mina geval. Sy was só dronk dat sy daai kind se arm met die valslag gebreek het.”
Die Sondagoggend het een van sy drywers hulle na die Mitchells Plain-daghospitaal geneem. Sy het ure later teruggekom en gesê die daghospitaal is toe.
Die volgende dag het haar kêrel haar R50 gegee om die kind Rooi Kruis-hospitaal toe te neem, het Schultz gesê.
Schultz het gesê dat sy later die dag sonder Mina plaas toe gekom het. “Ek het haar aanhoudend bly vra wanneer gaan sy die kind besoek en hoe dit met haar gaan.”
Die volgende naweek het werkers kom sê dat sy (Jarvis) tyding ontvang het dat haar kind in die hospitaal dood is.
Hy het egter agterdogtig geraak en het navraag by Rooi Kruis-kinderhospitaal en die polisie gedoen.
Volgens Schultz was sy nooit by die hospitaal nie en die polisie het nooit vir die ma gesê die kind is dood nie.
“Dis toe dat ek aandring dat die polisie haar moet kom ondervra. Sy het hulle bly ontwyk,” het hy gesê.
- Die Burger