Ma gooi glo baba in put
2009-08-05 12:16
Johannesburg – ‘n 39-jarige vrou is in die Moloto Village, Mpumalanga in hegtenis geneem nadat sy haar pasgebore baba in ‘n toiletput gegooi het.
Kapt. Fikile Mtshweni, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die vrou se pa het die gru-vonds gemaak toe hy Dinsdagmiddag by die huis gekom het en die toilet wou gebruik.
“Die ou man het agterdogtig begin raak toe by bloedvlekke op die toiletsitplek gesien het. Hy het toe ‘n flitslig gekry om te kyk wat binne die toiletput is en die baba gesien wat tussen die feses lê.”
Die toilet is ‘n paar meter van die huis in die agterplaas.
“Die baba het glo nog asem gehaal omdat die man die baba sien beweeg het,” het Mtshweni gesê.
Die man het sy dogter aangespreek oor die vonds en sy het herken dat sy in die toilet geboorte geskenk en die baba in die put geval het.
“Haar pa het die polisie gebel en die baba se lyk is later verwyder. Die ma verskyn binnekort in die KwaMhlanga-landdroshof,” het Mtshweni gesê.
Sapa