Ma, dogter in huis aangerand
2009-11-19 14:54
Johannesburg - 'n Ma is met 'n mes in die kop gesteek en haar dogter is verskeie kere in die gesig geslaan tydens 'n huisbraak in KwaZulu-Natal.
Volgens die polisie het die 22-jarige dogter Donderdagoggend iets by die gesin se huis, in Westgate, Pietermaritzburg, se voordeur gehoor.
Toe sy ondersoek instel, het sy twee onbekende mans in die kombuis sien staan.
Een van die mans het haar verskeie kere in die gesig geslaan.
Die jong vrou het na haar ma se kamer probeer ontsnap, maar is deur die mans agternagesit.
Een van die mans het 'n mes uitgehaal en haar ma in die kop gesteek.
Daarna het rowers die huis geplunder en met twee DVD-spelers gevlug.
Die dogter is op die toneel behandel, maar haar 40-jarige ma moes na 'n hospitaal geneem word vir behandeling.
- Sapa