Ma bly agter tralies ná sy glo kinders vermoor
2011-10-21 15:25
Noord-Kaap – 'n Noord-Kaapse ma wat daarvan beskuldig word dat sy haar vyf kinders vermoor het, sal in polisie-aanhouding bly en verskyn volgende week weer in die hof.
Venolia Siwa (35) het Donderdag in die Pampierstad-landdroshof verskyn, maar het nie om borgtog aansoek gedoen nie, het The Star berig.
Siwa het om regshulp aansoek gedoen en sal na verwagting pleit wanneer sy Maandag weer in die hof verskyn.
Sy is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die lyke van haar vyf kinders tussen die ouderdomme van twee en 13 by hul huis in die Majeakgoro-nedersetting in Pampierstad gevind is.
Lesego Diale, staatsaanklaer, het aan die hof gesê die moorde is vooraf beplan en "goed uitgedink".
Kapt. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het gesê die kinders is vermoedelik verdrink, maar nadoodse ondersoeke moet nog afgehandel word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA