MRK pak Facebook-haatspraak
2010-03-24 08:31
Johannesburg - Indien jy haatspraak of vuil taal op Facebook sou waag, kan jy binnekort die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) op jou voorstoep verwag.
Die SAMRK het die laaste tyd talle klagtes oor “ongewenste taalgebruik” en haatspraak op dié sosiale netwerk ontvang – veral sedert ’n e-pos met ’n skermafdruk van ’n beweerde haatboodskap op ’n Julius Malema-aanhangersblad op Facebook die afgelope week die ronde doen, het Vincent Moaga, woordvoerder van die SAMRK, gesê.
Die afdruk daarop wys die aanhangersblad met ’n boodskap van ene Thato Mbateti Mbateti wat blatant hatig teen wit mense uitvaar.
Tientalle ontstelde lesers het dié e-pos ook aan Die Burger gestuur.
Die boodskap is egter nie meer op die oorspronklike blad te sien nie.
Moaga het gesê hoewel die SAMRK nie self oor die interne kundigheid beskik om dit te doen nie, is dit sy einddoel om die outeurs van sulke haatboodskappe en kru taal op te spoor.
Hulle is tans in gesprek met die Onafhanklike Uitsaai-owerheid van Suid-Afrika en die departement van kommunikasie om in vennootskap die skuldiges op te spoor.
“Die webwerwe se domeine is by die departement van kommunikasie geregistreer. Met die departement se bystand kan ons moontlik binnekort dié proses begin.”
Hy het voorts gesê die publiek is welkom om nog soortgelyke klagtes na die SAMRK in te stuur.
Die DA het gister gesê Malema, ANC-jeugleier, moet homself van die Facebook-inskrywing distansieer.
“Ons glo in vryheid van spraak en elke burger se reg om aan openbare debat op ’n forum soos Facebook deel te neem, maar glo die inskrywing is so skokkend dat dit ’n ondersoek regverdig,” het die DA se nasionale woordvoerder, Lindiwe Mazibuko, gesê. “Om dié rede gaan ons die saak na die polisie verwys en ’n klag by die webtuiste se moderators indien.”
- Die Burger