MK-veteraan se lyk gevind
2013-01-15 11:34
Durban – Die lyk van ‘n veteraanleier van Umkhonto we Sizwe (MK) wat in die Inanda-dam in KwaZulu-Natal vermis geraak het, is gevind.
The Mercury berig Mduduzi Mdletshe, streeksvoorsitter van die MK, se lyk is ná ‘n soektog van agt dae gevind.
Hy het vermoedelik verdrink nadat hy tyd op ‘n boot deurgebring en geswem het.
Themba Mavundla, provinsiale voorsitter, wat ook aan boord was, het destyds gsê ‘n groep mans het ‘n vergadering gehou en toe gaan swem.
Hy sê Mdletshe het aanhou swem nadat die ander mans reeds na die boot teruggekeer het. Die groep het later gehoor toe Mdletshe geskree en gesukkel het om sy kop bo die water te hou.
Die mans het hom uit die water probeer haal, maar dit was te laat.
“Hy het net verdwyn. Ons het die polisie gebel want ons kon hom nie vind nie...” het Mavundla aan die koerant gesê.
Mdletshe het volgens die dagblad verlede jaar die nuus gehaal toe hy op die pad wat na pres. Jacob Zuma se woning lei, gelê het toe Helen Zille, leier van die DA, die plek wou besoek.
Die polisie het ‘n saak geopen.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA