MIV-sterftes Mbeki se skuld, sê dokkie
2009-11-17 06:37
Johannesburg - Oudpres. Thabo Mbeki is regstreeks verantwoordelik vir die dood van honderdduisende mense omdat hy gesloer het om antiretrovirale medisyne in staatshospitale beskikbaar te maak.
Van dié medisyne is gratis aan die staat aangebied.
Dit is die slotsom van ’n dokumentêre program wat vanaand op e.tv se 3rd Degree uitgesaai word.
Dié program is aanvanklik vir die SAUK se Special Assignment gemaak, maar die korporasie het glo bevind dat die aantygings teen Mbeki te omstrede en selfs ongegrond is.
The Price of Denial kyk na die prys wat Suid-Afrika steeds betaal weens Mbeki se ontkenningsbeleid oor MIV/vigs.
Dit toon onder meer aan hoe duisende babas onnodig met die virus besmet is, al het farmaseutiese maatskappye nevirapien gratis aan die staat gebied.
Die program vertel ook die verhaal van verkragte kinders wat weens regeringsopdrag nie antiretrovirale medisyne by die staat kon kry nie
Dit stel die vraag of daar enige manier is waarop die regering nou kan vergoed vir die skade wat gewone mense steeds ly.
Die program is aanvanklik deur Health-e News Service vir die SAUK vervaardig. Dit haal onder meer ’n studie van die Harvard-universiteit aan dat meer as 330 000 Suid-Afrikaners onnodig dood is in die jare van Mbeki se ontkenningsbeleid.
Nuushoofde by die SAUK het twee maande lank gewik en geweeg of hulle dié dokumentêr gaan uitsaai. Health-e News Service het die program aan die SAUK onttrek en dit aan e.tv aangebied.
Beeld verneem dat die SAUK “besorg” was oor van die aantygings en gevoel het dat dit selfs onregverdig was.
Mbeki het geweier om aan die program deel te neem of kommentaar te lewer.
Volgens die program is meer as 70 000 kinders in die beginjare van die Mbeki-era elke jaar met MIV gebore. Die regering kon nevirapien verniet kry, maar Mbeki het geweier omdat dit glo giftig sou wees.
Selfs nadat die kabinet ’n landwye bekendstelling van antiretrovirale medisyne goedgekeur het, het dr. Manto Tshabalala-Msimang, Mbeki se minister van gesondheid, voete gesleep met die inwerkingstelling van die beleid en volgehou met die bevordering van ’n omstrede dieet van onder meer knoffel, olyfolie en beet.
Die uitvoerende regisseur van 3rd Degree, Debora Patta, sê The Price of Denial lug belangrike vrae rondom ’n dekade van ontkenning en kwaksalwery.
Die SAUK het teen druktyd nie kommentaar gelewer nie.
- Beeld