MIV-lyers vra ligter vonnis ná moord
2011-03-12 07:40
Die twee moordenaars van Brink Botha (53), ’n boer van Brits, het gister gepleit om nie lewenslange tronkstraf kry nie, onder meer weens hul MIV-status.
Maar regter Peter Mabuse het Thomas Chauke (30) en Zondi Nkuna (31) wel tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Mabuse het in die hooggeregshof in Pretoria gesê omdat die moord so ’n ernstige misdaad is, skuif die skuldiges se persoonlike omstandighede op die agtergrond.
Die twee het Botha op 3 November 2008 in sy plaashuis vermoor. Botha is in sy slaapkamer in die bors geskiet.
Hulle is ook skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en wreedheid teenoor diere.
Agt boerboele van die Bothas is dié nag die gifstof aldikarb (Temic) ingegee. Een van die honde is dood.
Die moordenaars se regsverteenwoordigers het gister gesê daar is wesenlike en dwingende omstandighede wat meebring dat van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf afgewyk behoort word.
Hulle het gesê dit sluit in dat die beskuldigdes MIV-positief is; Chauke reeds vigs het; hulle reeds twee jaar in aanhouding is as verhoorafwagtendes; Chauke berou het; en Nkuna net in 1995 in konflik met die gereg was weens diefstal.
Mabuse het gesê daar is geen omstandighede wat ’n ligter vonnis regverdig nie. Hy het die twee ook ongeskik verklaar om huisdiere te besit.
Adv. Eric Pitso, vir Chauke, het gesê “behoorlike medisyne” (teen vigs) word nie in die tronk gegee nie. Chauke kry multivitamiene. Lewenslange tronkstraf “sal hom doodmaak”.
Patrick Mositsa, vir Nkuna, het gesê volgens Nkuna sien hy mede-aangehoudenes in die tronk sterf omdat hulle nie behoorlik behandel word nie.
Hy (Nkuna) is boonop eers deur tronkpersoneellede gehelp toe hy “bewusteloos” was.
Adv. J.P. Marais, aanklaer, het gesê behalwe in gevalle waar MIV deur verkragting of ’n bloedoortapping opgedoen word, is dit ’n “verworwe sindroom, ’n leefstyfsiekte, ’n
keuse”.
Hy het gesê die twee het Botha tereggestel.
Botha het alles gedoen om die gesin te beveilig. Daar was ’n elektriese heining, sowat 40 boerboele, ligte en diefwering.
Botha is vir net drie selfone, R200 en ’n bakkie wat die moordenaars ’n ent van die huis af gelos het, vermoor.
Christelle Botha, Botha se weduwee, het gister gesê sy is baie bly die hofsaak is verby.
Haar personeel, vriende en God “het my deur hierdie ding gedra”.
“God sorg vir jou,” het sy gesê.
Sy teel steeds boerboele op dié plaas en bedryf ’n vulstasiewinkel in Thabazimbi.
Botha trou in April weer.
Sy het verlede jaar ná die skuldigbevinding gesê: “Ek het hulle dadelik vergewe, binne 24 uur, sodat ek met my lewe kon aangaan.”
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld