M&G hersien beleid oor godsdiens
2010-05-27 07:30
Kaapstad. – Die Mail & Guardian gaan sy redaksionele beleid oor godsdienskwessies hersien ná die herrie wat sy spotprent oor die profeet Mohammed die afgelope week ontketen het.
Die koerant se redakteur, Nic Dawes, het gister ná ’n ure lange gesprek met Moslem-leiers gesê in die lig van die “leed” wat die spotprent veroorsaak het, is dié stap nodig.
Die blad het onderneem om gedurende dié hersieningstydperk geen beelde van die profeet Mohammed te publiseer nie. Volgens Dawes kan dit maande duur en sal daar wyd gekonsulteer word.
Die spotprent deur die bekroonde spotprenttekenaar Zapiro het verlede Vrydag verskyn. Dit toon die profeet wat by ’n sielkundige in die hemel kla: “Ander profete se volgelinge het ’n sin vir humor.”
Die Moslem-gemeenskap sowel as ander godsdienstige leiers het die publikasie daarvan skerp veroordeel. Dit het warm debatte in koerante en op die radio ontlok.