M-Net onttrek Oscar-advertensie
2013-02-14 13:55
Pretoria – Oscar Pistorius se advertensies by die privaatuitsaaier M-Net gaan onttrek word.
Die advertensieveldtog, wat wys hoe die 26-jarige atleet saam met twee plaaslike komediante die komende Oscar-toekennings, wat op M-Net uitgesaai word, adverteer, het op 20 Januarie begin draai.
Lani Lombard, woordvoerder van M-Net, het Donderdagoggend bevestig dat die Oscar-advertensies onttrek gaan word.
“Uit respek vir die familie wat ‘n verlies gely het, gaan M-Net die volledige Oscar-advertensievedltog, wat Oscar Pistorius insluit, met onmiddellike effek onttrek,” het Lombard in 'n e-pos gesê.
Pistorius se vriendin, die model Reeva Steenkamp, is Donderdagoggend in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet.
Hy sal Donderdag in die hof verskyn.
Samantha Moon, die vervaardiger van die opkomende Tropika Island of Treasure-program, waarvan Steenkamp 'n deelnemer was, het ook haar medelye betuig, het TV Plus berig.
“Ons is verpletter oor die tragiese dood van Reeva Steenkamp, ons vriendin en geliefde lid van die Tropika Island of Treasure-familie. Reeva was ‘n wonderlike mens en ‘n baie talentvolle en intelligente vrou. Ons gebede en gedagtes is met Reeva se vriende en familie,” het Moon gesê.
Die manstydskrif FHM, op wie se voorblad Reeva verskyn het, het op sy webtuiste ook sy medelye met Reeva se familie betuig.
“FHM het vir Reeva as ‘n pragtige, intelligente en vriendelike geken wat net ‘n plesier was om mee saam te werk en almal by FHM betreur haar ontydige afsterwe. Mag sy in vrede rus.”
Die polisie het intussen bevestig dat Pistorius van moord aangekla is.
– Volg Nuus24 op Twitter