Lykie gekry ná meisie kraam by Oprah-skool
2011-02-17 14:03
Johannesburg – Paramedici het Woensdagaand op die lykie van ’n pasgebore baba afgekom nadat hulle ontbied is om ’n 17-jarige meisie by die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls in Henley-on-Klip te behandel.
Die lykie is in ’n plastieksak tussen bebloede klere ontdek nadat hulle die meisie hospitaal toe geneem het.
Kapt. Shado Mashobane, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Hy het gesê voorlopig word ’n saak van die verberging van ’n sterfte teen die meisie ondersoek, “tensy die lykskouing bepaal die baba is vermoor”.
Beeld het betroubaar verneem die meisie is ’n gr.11-leerling aan die skool.
Sy het omstreeks 16:00 Woensdag geboorte aan die babaseuntjie gegee. Paramedici is omstreeks 20:00 na die skool ontbied.
Sy het glo baie gebloei en moes hospitaal toe geneem word. Van haar vriendinne het by die skool ’n plastieksak met bebloede klere aan die nooddienste gegee, is aan Beeld gesê.
Die sak is by die Midvaal-hospitaal in Meyerton deursoek en daar is op die lykie afgekom.
Die skool se woordvoerders kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld