Lyk van vermiste man ná 25 dae gevind
2011-07-25 07:05
Koopmansfontein - Die jong man van Ulco wat 25 dae gelede vermis geraak tydens ’n aandjie uit saam met sy vriende, se lyk is Saterdag deur ’n private speurder en vrywilligers hier gevind.
Die speurder, Leon Rossouw, is deur die familie ingeroep nadat die polisie kort ná sy verdwyning en ondanks die hulp van perde en honde, geen spoor van Wallace Ford (22) kon vind nie.
Die lyk is sowat 500 meter van die Koopmansfontein-vulstasie gevind naby die grondpad wat baie mense gebruik om by die hoofpad uit te kom.
Rossouw het aan Volksblad gesê hy het verlede week besluit om weer te gaan soek.
“Nadat ek weer met mense met inligting gepraat het, het ek besluit om lede van die plaaslike gemeenskap te vra om my en Wallace se ouers te help om die hele area weer te fynkam. Hy was reeds 23 dae vermis sonder dat enigiemand van hom gehoor nie. Dit het my laat dink dat iets met hom moes gebeur het.
“Ons het omstreeks 09:00 met 20 vrywilligers begin soek. Ek het die vrywilligers in ’n lyn laat loop sowat 10m uitmekaar en hulle het elke plek gefynkam. Alles wat snaaks gelyk het of uit plek uit was, is aan my uitgewys.
“Ons het na elke gat, sloot, murasie en bos gekyk om seker te maak ons mis niks nie. Nadat ons twee groot gebiede deursoek het, het ons omstreeks 11:40 die derde gebied aangepak – langs die grondpad agter die vulstasie waar almal gewoonlik stap om by die teerpad uit te kom.
“Nadat ons weer begin stap het, het een van die vrywilligers op Wallace se lyk langs die draad afgekom. Dit was ongeveer 500 m van waar hy laas lewend gesien was by ’n huis op Koopmansfontein.”
Rossouw het dadelik die plaaslike polisiekantoor gekontak om die toneel oor te neem.
Wallace se ouers, William en Monika Ford, hul dogter, Beverley, en Ford se vriendin, Bremulda Riet, was erg geskok en moes op die toneel behandeling kry.
Ford was een van ses kinders. Hy en sy vriendin het ’n babaseun, Quade Ford, wat nege maande oud is.
“Ons vermoed gemene spel en daar is baie vrae. Dit lyk nie of die lyk al 23 dae daar lê nie en dit was in ’n eienaardige posisie. Ons hoop maar dat die nadoodse ondersoek meer antwoorde sal gee oor die manier waarop hy dood is,” sê Ford sr.
“Ons aanvaar sy dood, want dit is wat die Here besluit het. Ons het darem nou ’n antwoord en kan ons kind begrawe. Ons het die hele oggend nog gebid dat hy leef.”
Hoewel hy die polisie op Koopmansfontein geloof het vir hul ondersteuning op die toneel, is hy negatief oor die polisie op Delporthoop.
“Die bevelvoerder, met wie ons baie gepraat het, het nie baie belang gestel nie en het nie eers Saterdag na die toneel gekom nie.”
Intussen bly sy seun se dood ’n raaisel, sê Ford.
Kapt. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het meer as een keer met honde en perde na leidrade gesoek.
“Die honde was op die stuk grond waar die lyk gevind is, maar daar was niks. Ons het die saak ook op televisie gehad en mense vir inligting gevra.
“Ons wil graag antwoorde hê en sal ná die nadoodse ondersoek die saak verder ondersoek, Die polisie doen alles in sy vermoë om die saak op te los,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad