Lyk met tatoeëermerke in vlak graf gevind
2012-12-27 18:00
Johannesburg – 'n Man se lyk is in 'n vlak graf in Kagiso naby Krugersdorp gevind, het die polisie in Gauteng Donderdag gesê.
Polisiewoordvoerder Solomon Sibiya het gesê die vlak graf agter die Kagiso-begraafplaas is verlede Woensdag deur 'n verbyganger opgemerk.
Sibiya het gesê die oorledene het donker gelaatstrekke en het 'n tatoeëermerk van 'n skerpioen op die linkerkant van sy bors. Op sy linkerskouer is die woord "Crazy" getatoeëer.
Volgens die polisie is die man tussen 32 en 35 jaar oud.
"Die lyk is opgegrawe en later na die staatslykshuis in Roodepoort geneem."
"Mense met inligting wat die polisie kan help om die oorledene se familie op te spoor kan konstabel Nkomo by 011 696 9086/87 skakel."
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA