Lyk in vrieskas in Kaapstad gevind
2012-10-03 10:37
Kaapstad – ‘n Ontbinde lyk is in ‘n vrieskas in ‘n woonstelblok in die Moederstad gevind, het ‘n koerant berig.
Cape Times berig konstruksiewerkers wat die Senator Park-gebou gerestoureer het, het op die lyk afgekom. Die lyk is op die vyfde verdieping in ‘n vrieskas, wat afgeskakel was, gevind.
Len Lowings, eiedomsbestuurder, sê hy het gedink dit was “die helfte van ‘n skaap.”
“Die polisie het my om 15:15 gebel om te bevestig dat dit ‘n man se lyk is. Toe ek dit vir die eerste keer sien, het ek gedink dit was ‘n halwe skaap of iets; nie ‘n mens nie.”
Hy sê die skoonmaakbestuurder het die werkers gevra om die “vleis” weg te gooi, maar sekuriteitswagte is ontbied toe hulle iets wat soos ‘n sokkie gelyk het, opgemerk het.
Die man se identiteit is nog onbekend.
‘n Huurder wat anoniem wou bly, het aan die koerant gesê die kamer se huurder het in Julie uitgetrek.
Die gebou is berug vir dwelms en prostitusie. Polisiebeamptes voer dikwels klopjagte hier uit.
‘n Saak van moord is geopen.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA