Lyk dalk vermiste tiener
2010-01-11 08:04
Fanie van Rooyen
Johannesburg - ’n Nadoodse ondersoek sal Maandag gedoen word op die halfontbinde lyk van ’n kind – vermoedelik dié van Masego Kgomo (10), wat op 31 Desember in Soshanguve, noord van Pretoria, vermis geraak het – nadat die lykie Vrydagaand in ’n veld in Soshanguve gevind is.
“Die polisie het na afloop van ’n uitgebreide soektog van tien dae Vrydag omstreeks 19:15 die halfontbinde lykie van ’n kind in ’n stuk veld agter ’n treinstasie in blok M van Soshanguve gevind,” het kapt. Julia Claassen, polisiewoordvoerder, gister gesê.
“Die familie van die meisie het haar lykie reeds aan haar klere uitgeken, maar ons sal eers na afloop van ’n nadoodse ondersoek en DNS-toetse met sekerheid weet of dit wel Masego se lykie is.”
Die lyk is sowat 4 km van die huis van Kate Kgomo (40), Masego se ma, in blok F in Soshanguve gevind.
Die nadoodse ondersoek sal volgens Claassen ook wys wat die oorsaak van dood was.
Die drie verdagte mans wat op 1 Januarie in verband met Masego se verdwyning in hegtenis geneem is, verskyn Dinsdag weer in die Soshanguve-landdroshof.
“Na afloop van die nadoodse ondersoek kan die drie beskuldigdes, wat aangekla word van ontvoering, moontlik van nog misdade beskuldig word,” het Claassen gesê.
Kapt. Solly Marindi, polisiewoordvoerder, het verlede week gesê Masego is kort ná middernag op 1 Januarie die laaste keer in die geselskap van ’n 28-jarige man gesien.
Dié man, wat beweer hy het Masego langs ’n mielieland naby die Sentraal-hostel in blok H in Soshanguve gelos omdat sy “self huis toe wou stap”, is op dieselfde dag nog saam met nog drie mans, waarvan een sedertdien vrygelaat is, in hegtenis geneem.
Masego is om 19:00 op Oujaarsdag deur haar ma by die Soshanguve-polisiekantoor as vermis aangemeld nadat sy haar dogter omstreeks 10:00 laas gesien het.
’n Soektog is van stapel gestuur en die volgende oggend is daar vasgestel Masego is om 00:19 op 1 Januarie die laaste keer in die geselskap van vier onbekende mans gesien.
Dié vier mans, waarvan een 16, twee 19 en een 28 jaar oud is, is kort daarna deur die polisie in blok H in Soshanguve in hegtenis geneem.
“Hulle is ondervra en het beweer hulle het Masego, wat volgens hulle verdwaal het, langs ’n pad in blok H gevind en wou haar huis toe neem,” het Marindi gesê.
“Hulle het haar egter eers na die Sentraal-hostel geneem.
“Die jonger mans het gesê die 28-jarige man is alleen saam met Masego by die hostel weg en hy het ’n ruk later sonder Masego weer by die hostel opgedaag.”
Dié man beweer hy het Masego langs ’n mielieland in blok H gelos omdat sy glo aan hom gesê het sy wil self verder huis toe loop.
Sy het nooit by die huis opgedaag nie.
–Beeld