Luisteraars looi Malema oor 'disrespek'
2011-08-02 12:16
Kaapstad – Julius Malema, omstrede leier van die ANC-jeugliga (ANCYL), sê hy respekteer alle mense.
Luisteraars van Talk Radio 702 het Dinsdagoggend ingebel en Malema oor kwessies soos respek en die onlangse onthullings in City Press uitgevra.
‘n Luisteraar het hom uitgevra oor die “disrespek” wat hy na bewering aan oudpres. Thabo Mbeki en ander mense toon.
Hy het geantwoord deur te sê dat hy “nog altyd” respek vir Mbeki gehad het.
“Toe ek met geleentheid in Polokwane gesê het ek ondersteun hom nie was dit nie disrespek nie – ek het net my demokratiese reg gebruik om op 'n spesifieke manier te stem.
“Dit neem niks weg van die feit nie dat pres. Mbeki een van die beste leiers is wat deur ons revolusie opgelewer is," het Malema gesê.
Volgens Malema beteken dit egter nie dat Mbeki nie sy eie swakpunte het nie.
“Een van die verantwoordelikhede wat 'n politieke aktivis het is om altyd eerlik te wees oor sulke goed".
Oor sy beweerde disrespek vir ander mense sê hy: "Daar is 'n verskil tussen respek en vrees. Ek vrees niemand nie. Ek respekteer almal. Waar ek mense nie gerespekteer het nie het ek om verskoning gevra en aanbeweeg.”
Hy het ook respek en liefde tussen rasse bespreek nadat ‘n luisteraar hom daaroor gevra het.
"Wit mense het die potensiaal om lief te hê en om mekaar te respekteer. Daar is baie goed wat ons by mekaar kan leer."
Onthullings in City Press
Malema het onlangs die hof gevra om te keer dat die Sondagkoerant City Press inligting publiseer oor ’n familietrust waarheen “skenkings” deur sakelui na bewering gekanaliseer word.
Die nuus oor die trust het die land in rep en roer gehad.
“Ek het nie die publisering van (my) trust probeer stop nie. Ek wou sekere leuens in die (City Press) berig stopsit,” het hy aan die radiostasie gesê.
Malema het onlangs aangekondig hy gaan die koerant vir naamskenking dagvaar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24