Luiperd val man op fiets aan
2011-02-09 23:00
Johannesburg – ‘n 32-jarige man het ernstige hoof- en rugbeserings opgedoen nadat hy naby Brits deur ‘n luiperd aangeval is, het die polisie in Noordwes Woensdag gesê.
Volgens kapt. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, was die man Dinsdag op sy fiets op pad werk toe, toe die voorval op die Dikololo-Assen-pad plaasgevind het.
“Hy het vir sy lewe geveg en kon daarin slaag om die luiperd te oorrompel. Die dier het weggehardloop in die rigting van ‘n naby geleë wildreservaat.
“Die slagoffer is na die Brits-hospitaal geneem vir mediese behandeling en dieselfde dag nog ontslaan,” het Myburgh gesê.
‘n Soektog na die luiperd is van stapel gestuur.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA