Lugruimbeheerder vas ná Motlanthe-vlug
2009-09-03 09:05
Erika Gibson
Pretoria - ’n Lugruimbeheerder is glo in hegtenis geneem nadat die vliegtuig waarin adj.pres. Kgalema Motlanthe was, vandeesweek ’n noodlanding moes uitvoer.
Dié lugruimbeheerder was in die beheertoring van die lughawe in Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) aan diens.
Dít kom nadat die beheerder glo vir die bemanning van Motlanthe se vliegtuig op dié se nadering van die lughawe gesê het die sig is 100% en hulle kan maar gaan land.
Motlanthe was op pad terug van Libië en sy vliegtuig sou eergisternag by Bangui land om brandstof in te neem.
Volgens ingeligtes het die lugruimbeheerder glo gesê alles is reg vir hul landing.
Hoogwaardigheidsbekleërs van die SAR en Suid-Afrikaanse diplomatieke afgevaardigdes het op aandag gestaan om Motlanthe te ontvang. Die lughawe was egter toe onder die wolke en die bemanning kon op geen manier die aanloopbaan sien nie.
Hulle moes noodgedwonge na Gbadolite in die noorde van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) uitwyk, omdat daar nog net brandstof vir sowat 45?minute se vlieg oor was.
Luidens internasionale voorskrifte oor lughawens het dié lughawe wel oor ligte, brandstof en ’n bemande beheertoring beskik.
Met die nadering by Gbadolite was daar egter geen teken van ’n lig by die lughawe of in die dorp nie. Alles was pikdonker en sonder elektrisiteit, het ’n bron vertel.
Die bemanning kon die aanloopbaan vind aangesien dit in die donker ’n effense ander kleur het as die res van die omgewing. Albei vlieëniers is ook gesout in vlieg met net die basiese geriewe op die grond.
Ná die landing was dit duidelik dat die lughawe verlate is. Die bemanning het voortgegaan en ’n braaivleisvuurtjie langs die aanloopbaan aan die gang gekry.
Motlanthe was na verneem word gelate oor sy onverwagse verandering in planne en omgewing en het lustig saamgesmul aan ’n vleisie.
Die volgende oggend is ’n ander vliegtuig gestuur om hom terug te neem Suid-Afrika toe, terwyl daar ook brandstof vir die gestrande DC-9-vliegtuig ingevlieg is.
Die DC-9 se bemanning is vervolgens terug na Bangui om die vliegtuig behoorlik vol te maak vir die terugvlug na Suid-Afrika.
Dáár gekom het alle hel rondom die kop van die lugruimbeheerder losgebars.
- Die Burger