Lugmagvliegtuig verdwyn in berge
2012-12-06 07:01
Johannesburg – 'n Lugmagvliegtuig het Woensdag op pad na Mthatha vermis geraak, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gesê.
"Ja, ons het die verslag ontvang oor die vermiste vliegtuig," het Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, gesê.
Die vliegtuig het gisteroggend omstreeks 08:00 van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria opgestyg en sou om 10:00 in Mthatha in die Oos-Kaap land.
Die laaste kommunikasie was omstreeks 09:00 toe die bemanning met die lugverkeerbeheertoring in Johannesburg gepraat het. Hulle het toe op instrumentasie alleen gevlieg omdat die weer en sig besonder sleg was, berig Beeld.
Mabanga wou nie sê hoeveel mense aan boord van die vliegtuig was nie, "om bespiegeling te verhoed".
Volgens Beeld is ’n mediese span wat weekliks ’n roetine-ondersoek op oudpres. Nelson Mandela in Qunu gaan doen, gewoonlik op dié betrokke vlug.
Afgesien van die twee vlieëniers, ’n navigator en twee laaimeesters was daar ook ’n mediese span aan boord. Die mediese span wat Mandela in Qunu besoek, bestaan gewoonlik uit ses lede. Die twee laaimeesters was van 44 Eskader by Waterkloof.
'n Soektog na die vliegtuig is Woensdag weens gure weer afgelas en sal Donderdagoggend by eerste lig begin.
Die vermoede is dat die vliegtuig, ’n C-47, óf geval óf ’n noodlanding in die omgewing van Giant’s Castle in KwaZulu-Natal gedoen het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA