Lugmaghoof in hospitaal vir erge stres
2011-11-05 07:06
Kaapstad - Lt.genl. Carlo Gagiano, lugmaghoof wat die afgelope week sy bedanking ingedien het weens ’n debakel oor BBP-vliegtuie, is reeds die afgelope drie dae in die hoësorgeenheid van 1 Militêre hospitaal weens erge stres.
Aanvanklik is gevrees hy het ’n hartaanval gehad. Gagiano is die afgelope maand onder druk weens dié debakel en is verlede maand ook in die parlement erg geroskam weens die gebrek aan transformasie in die lugmag.
Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het gesê die minister het reeds blomme aan Gagiano gestuur en sal die lugmaghoof “so gou moontlik besoek”.
“Die minister aanvaar steeds nie generaal Gagiano se bedanking nie en staan steeds agter hom,” het Mabaya gister gesê.
Die lugmag se BBP-vliegtuigvermoë is die laaste paar maande erg getoets met veral drie sake wat aandag getrek het.
Adj.pres. Kgalema Motlanthe is in September in die verleentheid gestel toe sy gehuurde vliegtuig wat hom na Nieu-Seeland geneem het, tydens ’n landing probleme gehad het.
Sowat twee weke gelede het Motlanthe se gehuurde vliegtuig weer tegniese probleme ervaar en moes die adjunkpresident noodgedwonge ’n kommersiële vlug na Finland gebruik.
Sisulu is ook glo woedend nadat dit aan die lig gekom het dat ’n onlangse huurvlug wat pres. Jacob Zuma na New York geneem het, gevlieg is deur twee vlieëniers wat betrokke was by ’n staatsgreeppoging in Ekwatoriaal-Guinee in 2004.
Die Burger verneem dié vlieëniers was die enigste gekwalifiseerde vlieëniers beskikbaar vir dié huurvliegtuig. Die lugmag het nie vlieëniers wat dié model straler kon vlieg nie. Die vlieëniers is ook aangestel deur die eienaar van die huurvliegtuig en nie die lugmag nie.
Gagiano het verlede maand aan Die Burger gesê die jongste probleme met die vliegtuie vir die BBP’s kon nie voorsien of voorkom word nie.
Gagiano het verder gespot en gesê vliegtuie is soos kinders. “Hulle stel jou in die verleentheid wanneer jy dit die minste verwag.”
Intussen neem die debat toe oor die bespiegeling rondom die bedanking van me. Mpumi Mpofu, die verdedigingsekretaris.
Mnr. Pieter Groenewald, VF+-LP en lid van die departement van verdediging se portefeuljekomitee, het gesê hy glo Mpofu word gestraf omrede sy die korrekte verkrygingsprosedures wou nakom met die aankope van nuwe BBP-vliegtuie.
“Dit lyk of Mpofu nie baantjies vir boeties wou duld as dit kom by die toekenning van kontrakte deur die departement nie.”
’n Tender is reeds in April vanjaar toegeken aan AdoAir, vir twee nuwe BBP-stralers wat teen $120miljoen (sowat R946miljoen) aangeskaf sou word om Suid-Afrika se hooggeplaastes te vervoer.
Sedertdien het bewerings van onreëlmatighede met die aanskaffingsprosedures opgeduik en staan die proses stil.
Die Burger verneem die tender was onder meer op ’n geslote basis toegeken, sonder dat enige van die opsies vir openbare oorsig gevolg is en sonder dat dit voor een van die parlementêre oorsigkomitees verskyn het.
Sisulu is na bewering ontevrede oor dié gesloerdery.
Mabaya het gesê die departement gaan nie kommentaar lewer op bespiegeling nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger