Lugmag wil nie sekere inligting gee
2010-11-18 09:26
Beeld
Kaapstad. – Die lugmag het Woensdag geweier om vir parlementslede te sê presies hoeveel vlieëniers die Gripen-vegvliegtuie kan vlieg “omdat dit ’n bedreiging vir nasionale veiligheid sal inhou”.
Dít ondanks ’n breedvoerige uiteensetting oor presies hoeveel vegvliegtuie en helikopters die lugmag het. Hulle het ook verslag gedoen oor die “growwe onderfinansiering” van die lugmag en die verlies aan kundigheid.
Pieter Groenewald (VF+) het hewig kapsie gemaak toe brig.genl. Wiseman Mbambo aan die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging gesê het die syfers oor gekwalifiseerde vegvlieëniers is ’n kwessie wat nasionale veiligheid raak.
“Ek wil graag ’n antwoord op die vraag hê – dis ’n kwessie wat ’n geruime tyd reeds in die openbare domein is. Dié vraag is in die verlede beantwoord, waarom dit nou ewe skielik ’n kwessie van nasionale veiligheid maak?”
Mbambo het gesê as hy die antwoord sou gee “gaan ons na antwoorde oor ons operasionele vermoëns begin grawe”.
Tog het hy vroeër erken die lugmag is weens ’n gebrek aan geld reeds besig om sekere vermoëns prys te gee.
Die komiteevoorsitter, mnr. Nyami Booi (ANC), het ’n gaping wat mnr. David Maynier (DA) hom gebied het, geneem en beslis die vraag moet beantwoord word, maar dat Mbambo eers toestemming moet kry om dit te doen.
Maynier het aan Booi gesê dit is onregverdig om die las om sulke belangrike inligting bekend te maak net op Mbambo se skouers te plaas. Later het hy bygevoeg Mamoloko Kubashi, waarnemende sekretaris van verdediging, wat die vergadering bygewoon het, moet toestemming gee.
Kubashi was nie daarvoor te vinde nie en het gesê sy sal eers met Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, moet beraadslaag.
Groenewald was nie tevrede daarmee nie. “Ons is as portefeuljekomitee ’n verlengstuk van die parlement en dit beteken die lugmag wil nie antwoorde aan die parlement gee nie. Hoe moet ons behoorlike oorsigwerk doen sonder inligting?”
Kubashi het voorts verduidelik inligting wat die komitee vroeër reeds aangevra het – oor vlieëniersverliese, die lugmag se geslags- en rassesamestelling en statistieke oor tegniese personeel – is nog nie beskikbaar nie omdat Sisulu die uitreiking daarvan nog nie goedgekeur het nie.
Mbambo, direkteur van lugvermoëns, het soos sy kollegas van die leër en vloot eergister ’n klein begroting as die vernaamste uitdaging uitgelig.
Dít lei tot die onderbenutting van toerusting en ’n verlies aan vaardighede.
Volg Beeld op Twitter