Lugmag het duur vliegtuig geweier
2009-10-20 08:43
Erika Gibson
Pretoria-Die lugmag wou nie die omstrede Airbus A400M-vragvliegtuig gehad het nie. Daar was trouens in 2004 haas geen behoefte aan ’n swaarvragvermoë soos dié nie.
Volgens Helmoed-Römer Heitman, ’n militêre kenner wat met die aanskaffingsproses van dié vliegtuig vertroud is, is die kontrak destyds met die departemente van handel en nywerheid en van vervoer gesluit om die vliegtuie aan te skaf.
Aanvanklik is oorweeg om 14 vliegtuie aan te koop, maar die lugmag wou net tot agt instem.
Die regering het beplan om ekstra kapasiteit met die aanskaffing van die vliegtuie – destyds teen altesaam R7,5 miljard – aan te wend om vrag vir die SAL te vervoer. Die afgelope week het die aankoop van dié agt vliegtuie, waarvan Suid-Afrika ’n mede-ontwikkelaar sal wees, ’n storm in die parlement ontketen.
Dit was enersyds omdat die vertraging in die bou van die vliegtuig nou reeds oor nagenoeg vier jaar strek en andersyds omdat die totale koste tot ’n beweerde R47 miljard gestyg het.
Heitman meen dié styging is moeilik om te staaf omdat niemand die feite rondom die transaksie op die tafel sit nie. Dit is dus moontlik dat die jongste prys, wat hewig deur Airbus Military ontken word, bereken is met inbegrip van die jaarlikse operasionele instandhouding.
“Die jongste beraamde bedrag vir die vliegtuie was R17 miljard met ’n moontlikheid van ’n 20%- styging in dié onkostes. Vir dié bedrag kan die kabinet waarskynlik ’n veel beter mengsel van vliegtuie koop met ’n bewese rekord (die A400M se eerste model sal eers later vanjaar na beplanning vir die eerste keer vlieg).
Na verneem word, is Krygkor besig met vergelykende studies tussen die moontlike plaasvervangers vir die A400m. Dit sal in November aan die kabinet voorgelê word.
- Die Burger