Lugmag gekap oor transformasie
2011-11-01 08:02
Kaapstad – Die lugmag sukkel om sy transformasieteikens te haal omdat daar nie genoeg geld beskikbaar is om pakkette aan senior wit offisiere te betaal nie.
Lt.genl. Carlo Gagiano, hoof van die lugmag, het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging gesê baie senior offisiere het vroeër kontrakte gekry wat hulle aan die lugmag verbind totdat hulle 60 jaar oud is.
“Dit is gedoen om hul kundigheid vir die lugmag te behou. Met die heersende ekonomiese resessie (en gebrek aan ander werk elders) gaan die offisiere nou nêrens nie en wag hulle eenvoudig totdat hul kontrakte verstryk.”
Range van majoor tot kolonel is steeds meer as 50% wit, terwyl range soos stafsersant en luitenant-kolonel byna 75% wit bly.
Gagiano het gesê die lugmag sit met drie uitdagings wat betref transformasie.
“Die eerste is geld. Die tweede kwessie is uittreemeganismes. As ons mense onder in die stelsel wil indruk, moet plek aan die bokant gemaak word. Laastens is daar die ontwikkeling van jong mense. Ons sit met ’n probleem dat die aantal mense wat kwalifiseer en deurkom na die lugmag toe, al hoe minder raak.”
Volgens Gagiano neem al hoe minder hoërskoolleerlinge sowel wiskunde as wetenskap.
“As dit by spesialis-aanstellings soos vlieëniers en ingenieurs kom, is die kwaliteit en kwantiteit van die skoolverlaters ’n ernstige kwessie.”
Meer as 60% van lugmaglede met tegniese vaardighede, soos vlugingenieurs, in die range van kaptein tot generaal-majoor is wit. Dit is eers van die rang van luitenant waar dié persentasie afneem.
Mnr. Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement van verdediging, het gesê die regering wil hê die land se weermag moet verteenwoordigend van die bevolking wees.
“Ons verstaan transformasie by die lugmag is stadig, stadiger as by ander dele van die nasionale weermag. Terwyl ons verwag dat die lugmag so vinnig moontlik moet transformeer, is dit egter van meer kritieke belang dat die oordrag van vaardighede van senior na junior offisiere moet voortgaan.”
Een van die komiteelede het Gagiano gevra hoekom hy nie bedank en ’n voorbeeld vir ander offisiere stel nie.
Hy het die komitee toe daarop gewys dat hy reeds in Maart vanjaar bedank het.
“Die minister van verdediging het egter gemeen my bydrae is nog nodig en sy het my ’n nuwe kontrak aangebied. Die president het my toe vir nog ’n jaar aangestel.”
Die lugmag moet later vanjaar weer voor die komitee verskyn waar die kwessie van transformasie verder gevoer sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger