Lughawe het tekort aan petrol
2011-11-01 09:03
Johannesburg – Daar ís ’n tekort aan vliegtuigbrandstof by die O.R. Tambo-lughawe, maar daar is nie ’n krisis nie, het die lughawensmaatskappy Acsa Maandag gesê.
Unathi Batyashe-Fillis, kommunikasiebestuurder van Acsa, het gesê ’n reeks hoëvlak-vergaderings is Vrydagmiddag belê om die probleem te probeer oplos.
Volgens haar is daar minder as die vereiste vyf dae se voorraad, maar gerugte dat daar net een dag se brandstofvoorraad oor is, is onwaar.
“Die tekort is weens die onvermoë van kernverskaffers om aan behoeftes te voldoen,” het sy gesê.
“Sedert Vrydag het ons ’n verbetering gesien. Ons is nog nie tevrede nie, maar ons hou die situasie fyn dop.
“Die lughawe funksioneer tans op ’n volhoubare vlak.”
Volgens Batyashe-Fillis is dit net die O.R. Tambo-lughawe wat probleme ondervind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld