Lotto-moordenaar sit 33 jaar
2009-09-18 18:12
Johannesburg - 'n Man wat in 2003 R6,2 miljoen in die lotery gewen het, is 33 jaar tronkstraf opgelê nadat hy 'n man in 2006 teregstellingstyl doodgeskiet het.
Jonathan Canterbury (35) is Vrydag in die Kaapse hooggeregshof 25 jaar tronkstraf vir die moord op Henry Stevens opgelê. Hy is 'n verdere drie jaar tronkstraf vir die besit van 'n onwettige vuurwapen opgelê, twee jaar vir die besit van ammunisie en drie jaar vir regsverydeling.
Insp. November Filander het gesê Stevens (36) is op 12 September 2006 by Canterbury se huis in Kuilsrivier geskiet.
"Nadat Canterbury die lotery in 2003 gewen het, het hy 'n luukse leefstyl gehad en betrokke geraak by dwelmhandel. Hy het die geld binne twee jaar geblaas."
Russel "Sniper" Johannes (36), die tweede beskuldigde, is 15 tronkstraf opgelê vir moord, drie jaar vir die besit van 'n onwettige vuurwapen opgelê en twee jaar vir die besit van ammunisie. Hy sal dié straf gelyktydig uitdien.
Die derde beskludigde, Remo Kuys (39), is drie jaar tronkstraf opgelê vir regsverydeling.
– Sapa