Lotter-saak: 'Ek weet niks van moordplanne'
2011-11-04 18:03
Durban – Dit was duidelik dat Nicolette en Hardus Lotter probeer het om Mathew Naidoo van die moord op hul ouers te blameer, het Naidoo Vrydag aan die hooggeregshof in Durban gesê.
Die broer en suster het probeer om die blaam op hom te sit, aangesien hulle nie verantwoordelikheid vir hul aksies wil neem nie, het hy beweer.
“Dit is my opinie dat hulle probeer het om my te gebruik om ‘n verdediging vir hulself te bou,” het Naidoo gesê.
Nicolette het probeer om hom soos die meesterbrein agter die moordkomplot te laat lyk, alhoewel hy nie is nie, het hy beweer.
Die broer en suster, sowel as Naidoo, wat ten tyde van die moorde Nicolette se kêrel was, ontken almal dat hulle Maria Magdalena "Riekie" Lotter, 52, en haar man, Johannes Petrus Lotter, 53, op 19 Julie 2008 vermoor het.
Mev. Lotter is doodgesteek en haar man is met ‘n elektriese kabel verwurg.
Die Lotter-kinders beweer dat hulle deur Naidoo, wat aan hulle gesê het dat hul ouers moet sterf en ook verduidelik het hoe hulle doodgemaak moet word, beïnvloed is.
Hulle het vertel dat die oorspronklike plan was om hul ouers te skok totdat hulle bewusteloos is. Naidoo, wat beweer dat hy “die derde seun van God” is, sou gevolglik by die huis in Westville opdaag en met ‘n inspuiting lug in hul are inblaas om hartaanvalle te veroorsaak.
Die plan het skeefgeloop en die skokmasjientjie het nie gewerk nie. Nicolette het in haar verklaring aan die polisie gesê dat Naidoo vir haar gesê het om haar ma te steek en vir Hardus om sy pa te verwurg, aangesien dit God se wil is.
Naidoo het Vrydag in die hof gesê dat hy niks weet van ‘n plan om die Lotters te vermoor nie en dat hy nooit instruksies gegee het oor hoe hulle vermoor moet word nie.
Hy het glo ook nooit gesê dat hy die derde seun van God is of dat engele en duiwels deur hom gepraat het nie.
Die saak duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA