Loteryraad sukkel met uitbetalings
2012-01-25 09:05
Johannesburg – Welsynsorganisasies wat sukkel om geld van die Nasionale Loteryraad (NLR) te ontvang, gaan dalk hul deure moet sluit, maar die raad hou vol hulle doen hul bes onder moeilike omstandighede.
Luke Lamprecht van die Johannesburg Child Advocacy Forum (JCAF), wat verskeie organisasies verteenwoordig, het gesê die grootste probleem is ’n “buitensporige oponthoud” met die toekenning van toelaes.
“Die aansoeke is voor die spertyd in Maart ingedien. Hulle het na van die aansoeke gekyk, seker minder as die helfte. Baie van dié aansoeke is afgekeur, of die toelae is verminder.
“Die res van ons het nog niks gehoor nie.
“Ons (organisasies) moet by streng spertye vir aansoeke en vorderingsverslae hou. Dis asof hulle nie soortgelyke spertye vir hulself stel nie.
“Dit maak dit onmoontlik om ’n begroting op te stel.”
Volgens Lamprecht is daar verskeie organisasies wat jaar ná jaar toelae gekry het, maar nou word dié toelae skielik gesny.
“Met die toelae kon hulle hul dienste uitbrei en verbeter. Hulle wil dit nie nou weer afskaal nie en moet hul surpluskapitaal begin gebruik. Hulle gaan begin toemaak.
“Daar is baie desperate, weerlose mense wat nou nie belangrike dienste ontvang nie.”
Jacqui Michael, direkteur van die Johannesburg Parent and Child Counselling Centre, het gesê hulle sal teen einde Februarie nie meer hul personeel se salarisse kan betaal nie.
Die sentrum werk met arm gesinne waar daar ’n risiko is dat die kinders van hul ouers weggeneem kan word. Hulle bied ook berading aan kinders met gedragsprobleme.
“Ons het in Maart aansoek gedoen om ’n skenking en het ’n brief met ’n verwysingsnommer gekry om te sê dat hulle die aansoek ontvang het,” het Michael gesê.
“Sedertdien het ons egter niks gehoor nie en dis al byna ’n jaar.”
Hulle het die NLR al herhaaldelik gebel en daar is elke keer gesê dat hulle binnekort sal hoor of hul aansoek goedgekeur is.
“Hulle het eers gesê Oktober, toe Desember, nou’s dit al Februarie.”
Michael het gesê hulle wag ook nog vir beloofde geld van die staat.
“Tussen die Lotto en die regering weet ek nie hoe ons veronderstel is om dienste aan die kinders van hierdie land te lewer nie. Dis ’n aanhoudende stryd.”
Sershan Naidoo, NLR-woordvoerder, het gesê hulle het die afgelope boekjaar 8 500 aansoeke om toelaes ontvang en hulle het ’n begroting van R800 miljoen vir welsynsorganisasies. Die vorige jaar het hulle net 4 000 aansoeke ontvang en het hulle R1,4 miljard tot hul beskikking gehad.
“Die aantal aansoeke maak dit moeilik om dit vinnig te verwerk. Ons het wel verbeteringe in dié opsig gemaak.
“Die sluitingsdatum vir die aansoeke was 25 Maart 2011 en alle aansoeke word chronologies verwerk. Ons raai organisasies aan om hul aansoeke so vroeg moontlik in te dien.”
Naidoo het bygevoeg dat organisasies die NLR nie as hul enigste bron van geld moet beskou nie, hoewel die raad begrip het vir die moeilike omstandighede wat dié organisasies ondervind.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad