Loseerder gesoek ná man se dood
2011-12-03 11:01
Johannesburg – Die polisie soek die loseerder van ’n moordslagoffer van Secunda omdat hy moontlik lig kan werp op dié moord vroeg in November.
Die moordenaar het Mile Veljkovic (63) se kop vergruis en daarna ’n plastieksak oor sy kop getrek.
Hy het vermoedelik toe versmoor.
Claudio (16), Veljkovic se seun, en ’n vriend het die lyk op 2 November in sy huis ontdek toe hulle van die skool af terugkeer.
Volgens die polisie was die loseerder, net bekend as Lenad, saam met Veljkovic tuis toe Claudio die oggend skool toe is.
Lenad het toe al ’n tyd lank by die Veljkovics geloseer, het lt.kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.
By sy terugkeer van die skool af het Claudio gesien sy pa se wit Toyota Hilux-bakkie is nie by die huis nie.
“Hy en ’n skoolvriend het ’n venster oopgemaak, ingeklim en Veljkovic se lyk gekry.”
Die polisie het later by ’n nabygeleë motorhawe op beeldmateriaal afgekom van Lenad, dae voor die moord.
Hlathi het enigiemand met inligting oor Lenad gevra om lt.kol. Enoch Mbokane by 082 556 5630 of kapt. Tanya Oosthuysen by 082 496 2220 te bel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld