'Los luukses, lewer beter dienste' – Gordhan
2011-09-15 07:02
Kaapstad – Nuwe raadslede moet van “tierlantyntjies soos splinternuwe Mercedes-Benze vergeet”.
Só het Pravin Gordhan, minister van finansies, met die bekendmaking Woensdag van die tesourie se jongste munisipale oorsigverslag in die parlement gesê.
Gordhan het gesê munisipaliteite kon R27 miljard in die 2009-’10-boekjaar gespaar het – dit is R74 miljoen per dág – deur onnodige uitgawes te besnoei.
Hy het gesê die fiskus is onder druk weens die onseker ekonomiese toestande en nuwe raadslede moet van sulke “tierlantyntjies” vergeet.
Die oorsigverslag noem ’n rits oortollighede waarop munisipaliteite móét besnoei, waaronder “buitensporige” voordele soos peperduur motors en selfoontoelaes, borgskappe, spyseniering, werksessies, weelderige kantore, buitelandse reise en konsultante.
Deur dié besnoeiings kan tot 15% van uitgawes gesny word.
“Los die oortollighede en kry jul beplanning, begrotings, dienslewering en burokrasie reg,” het Gordhan Woensdag op ’n inligtingsessie by die parlement gesê.
Hy meen daar is “vordering”, maar het munisipaliteite gemaan om hul begrotings eerder aan noodsaaklike infrastruktuurontwikkeling en instandhouding te bestee.
Hoewel die verslag toon al hoe meer mense het die afgelope drie boekjare toegang tot noodsaaklike dienste soos water, elektrisiteit en vullisverwydering, word die vertrouensbreuk tussen burgers en plaaslike regering as die “grootste struikelblok” geïdentifiseer.
Jaarlikse meningsopnames toon meer as die helfte van landsburgers het geen vertroue in hul munisipaliteite nie.
Tot 111 diensleweringsoptogte is in 2010 aangeteken (die meeste sedert 2004) én daar is ’n toename in die aantal “militante” belastingbetalerverenigings wat dienstegeld weerhou.
Munisipaliteite se geldsake lyk steeds beroerd, deels weens foutiewe diensterekeninge en omdat daar te min vir dienste gevra word en andersins weens ’n onvermoë om skuld in te vorder.
Agterstallige skuld het teen Desember R62,3 miljard beloop – ’n toename van 10% vergeleke met 2009.
Daar word steeds hopeloos te min aan instandhouding en herstelwerk aan elektrisiteitsverspreidingsnetwerke, water-infrastruktuur en paaie bestee – die nasionale agterstand in water-infrastruktuur alleen beloop R13 miljard.
Die verslag waarsku die verwaarlosing sal op mediumtermyn lei tot onbetroubare dienste, duurder onderhoudkoste, transmissieverliese, krimpende munisipale inkomste en eindelik verhoogde tariewe vir belastingbetalers.
“Talle landelike munisipaliteite weet nie watter bates hulle het, waar dit is of hoe oud dit is nie.”
Voorts is daar ’n tekort aan kritiek noodsaaklike tegniese vaardighede soos gekwalifiseerde bestuurders, ingenieurs en tegnici.
Intussen toon statistieke munisipaliteite en metrorade stel al hoe minder personeel aan in kritieke sektore soos in die finansies- en tegniese afdelings en al hoe meer in “ander” afdelings.
Teen 2009 was 11% van werknemers gemoeid met finansiële administrasie; 23% was in die tegniese sektore en 65% in “ander” afdelings.
Daar is ook ’n wesenlike toename in die koste om amptenare in diens te neem.
Hoewel munisipaliteite se personeelgetalle tussen 2006 en 2009 maar met net 4% toegeneem het, het munisipaliteite se salarisrekening in dieselfde tydperk met tot 52% gestyg.
Hoewel metrorade en kleiner stede se munisipale bestuurders salarisse verdien wat verband hou met die ervaring, vaardighede en verantwoordelikhede wat van dié poste vereis word, is munisipale bestuurders by distriksrade se salarisse “onredelik hoog”, lui die verslag.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad