Los Pretoria se naam uit, sê Steve en seun
2010-11-14 10:12
Rapport
Die meeste mense nóg – 35 749 – het Saterdag na die Voortrekkermonument opgeruk vir ’n konsert teen die verandering van Pretoria se naam.
Altesame 29 kunstenaars het hul dienste gratis aangebied vir die vierde konsert van sy soort. “Ons sê vir hulle dit gaan oor die viering van Pretoria en die behoud van die naam en dan is hulle dadelik bereid om te help,” het Kallie Kriel van AfriForum gesê.
Die verrigtinge het in ’n stadium ’n politieke kleurtjie gekry toe van die kunstenaars van die verhoog af gepraat het oor die ANC-jeugliga se voorstel om die standbeeld van oudpres. Paul Kruger van Kerkplein te verwyder.
Die verrigtinge was egter grotendeels jolig. Talle vroue in bikini’s en mans met kaal bolywe het begin dans.
Toe Juanita du Plessis lostrek met haar geestelike treffer Ons Koning kom het die meeste voorbokke vinnig hul biere laat sak.
Ander kunstenaars wat die skare uit die kosskuur na die verhoog laat skarrel het, was Lianie May, Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren, Elizma Theron en Sorina Erasmus (die Flooze).
- Rapport