Tehuis-moord: Twee vas
2010-11-25 12:51
Johannesburg – Twee mans is Donderdagoggend in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n 84-jarige vrou in Durbanville verkrag en vermoor het, het polisie in die Wes-Kaap gesê.
“Polisie het twee mans, onderskeidelik 23 en 27 jaar oud, vroeg Donderdagoggend in hegtenis geneem vir die moord op ‘n vrou by Huis Aristea in Durbanville,” het woordvoerder sers. Bernice Laas-Bezuidenhout, gesê.
Die aanval het tussen Saterdagaand en Sondagmiddag plaasgevind.
Die skokkendste van die moord die naweek op Cornelia Kilian, 84, was dat sy terminaal siek was, skaars met ’n loopraam kon stap en weerloos was, het ’n betroubare bron aan Die Burger gesê.
Die verdagtes sal Maandag in die Bellville-landdroshof op aanklagte van moord, verkragting en inbraak verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA