Loonverhoging kan werkverlies veroorsaak – Mulder
2012-11-21 15:26
Kaapstad – 'n "Buitensporige" verhoging in die minimumloon vir plaaswerkers sal die verlies van werk en meganisasie in die sektor teweegbring, het dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van landbou, Woensdag gesê.
Mulder het gesê boere is gereed om minder op plaaswerkers staat te maak ná gewelddadige betogings in verskeie plaasdorpe in die Wes-Kaap.
"Die huidige landboustakings sal landbou in Suid-Afrika vir ewig verander," het hy op 'n landbou-dag in Willowmore in die Oos-kaap gesê.
Mulder het gesê die vermindering van plaaswerkers oor die afgelope sewe jaar was deel van 'n internasionale neiging, maar die situasie in Suid-Afrika is vererger deur 'n reeks omstrede besluite.
Die aantal plaaswerkers het van meer as een miljoen in 2004 na 624 000 in 2011 verminder.
"Faktore soos grondhervorming, die inmenging van die regering op plase en die algemene onsekerheid oor die toekoms van landbou, het die getal in Suid-Afrika soveel meer gemaak as die afname in ander lande," het Mulder gesê.
Mulder het gesê werkverlies sal vinniger gebeur omdat boere ná die stakings na meganisasie beweeg.
"In ontwikkelde lande soos die Verenigde State en Australië, waar daar min plaaswerkers beskikbaar is, is boerdery-toerusting reeds so gevorderd dat boere sonder honderde plaaswerkers kan klaarkom."
Mulder het gesê meer as die helfte van kommersiële boere in die land het 'n omset van minder as R300 000.
"Met die styging van elektrisiteits-, water- en brandstofpryse kan boere nie die skielike verhoging in arbeidskostes bekostig nie."
Hy het gesê boere sal met twee keuses gelaat word bankrotskap of die vermindering van werkers.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA