Lonmin-slagting: Dodetal staan op 35
2012-08-17 08:23
Johannesburg – Meer as 30 mynwerkers is deur die polisie by die Lonmin-myn in Marikana in Rustenburg doodgeskiet, het die polisieminister, Nathi Mthethwa, Vrydag gesê.
“Die polisie het alles gedoen wat hulle kon... maar die mense [mynwerkers] het gesê hulle gaan nie loop nie en dat hulle bereid is om te baklei,” het hy in ‘n onderhoud met Talk Radio 702 gesê.
Mthethwa het aan die uitsaaier gesê dat meer as 30 mense Donderdagmiddag dood is toe die polisie op gewapende mynwerkers losgebrand het.
Die departement van gesondheid in Noordwes het Vrydag gesê 25 mense is Donderdag in die skietery dood.
“Die dodetal staan op 25,” het Tebogo Lekgethwane, woordvoerder vir die departement, gesê.
Dit bring die totale dodetal by die myn in die afgelope week op 35 te staan, insluitend die 10 mense wat tydens die vroeëre betogings, wat Vrydag begin het, dood is.
Volgens die minister is “baie” ander beseer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA