Lonmin-onderhandelings sleep voort
2012-09-10 22:23
Johannesburg – ‘n Splintergroep van sowat 3 000 stakers het 24 uur om by onderhandelings by die Marikana-myn aan te sluit, of die onderhandelaars gaan onttrek, het die vakbond Solidariteit gesê.
“Die werkers het nie teruggekeer werk toe soos volgens die voorvereistes afgespreek is nie,” het Gideon du Plessis, sekretaris-generaal van Solidariteit, gesê.
Solidariteit was een van die vier vakbonde wie se verteenwoordigers Maandag vir geskeduleerde salarisonderhandelings opgedaag het.
Du Plessis sê verteenwoordigers van Solidariteit, Numsa, Uasa en Amcu was almal teenwoordig om namens 23 000 werkers te onderhandel. Lonmin-verteenwoordigers was ook teenwoordig.
Die splintergroep, wat aparte verteenwoordigers vir die onderhandelings wou hê, het nie opgedaag nie.
Du Plessis sê die groep se verteenwoordigers het eers gesê dat hulle te moeg is om die vergadering by te woon.
Toe het ‘n groep geestelikes opgedaag wat gesê het die werkers sal nie na Lonmin terugkeer voordat hulle nie hul salarisse van R12 500 ontvang het nie.
Die onderhandelings sou deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) gefasiliteer word.
“Die eindresultaat is dat die CCMA vir 24 uur gevra het om nog een vergadering te hou voor hulle die uitkoms bekend sal maak,” het Du Plessis gesê.
“As hulle steeds volhou sal die stakers nie terugkeer werk toe nie en sal die fasiliteerders hulle aan die onderhandelings onttrek. Die saak sal dan aan die maatskappy oorhandig word.”
Lonmin het gesê sowat 6,34% van sy personeel was Maandag by die werk.
Volgens ‘n ooreenkoms wat verlede Donderdag onderteken is, moes die werkers almal Maandag terug by die werk gewees het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA