Lonmin-baas in hospitaal opgeneem
2012-08-16 21:55
Johannesburg – Lonmin het in ‘n verklaring gesê die maatskappy se uitvoerende hoof is siek.
Die verklaring oor Ian Farmer se gesondheid kom te midde van berigte dat talle mynwerkers tydens ‘n skietery met die polisie in Marikana in die Noordwes gesterf het.
Luidens die verklaring is die uitvoerende hoof van die maatskappy tans in die hospitaal nadat ‘n “ernstige siekte” by hom gediagnoseer is.
‘n Skietery het Donderdagmiddag tussen polisiebeamptes en stakende mynwerkers uitgebreek.
‘n Verslaggewer van Sapa sê hy het 18 lyke langs die nabygeleë Wonderkop-plakkerskamp gesien. Die amptelike dodetal en aantal mense wat gewond is, moet nog bevestig word.
Die skietery het ontstaan toe polisiebeamptes die stakers, wat op ‘n heuwel saamgedrom het, uitmekaar wou jaag.
Volgens die nuusagentskap sal die polisie later ‘n inligtingsessie vir die media oor die voorval hou.
Politieke partye het intussen daarop aangedring dat ‘n dringende ondersoek na die skietery gehou moet word.
Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, sê daar moet vasgestel word wat die konfrontasie tussen die polisie en die stakers veroorsaak het.
Mthembu sê die voorval het die party geskok.
“Ons is almal baie hartseer oor die geweld wat ons op die televisie gesien het,” het hy gesê.
Die woordvoerder het bygevoeg dat “hierdie onwettige stakers van dag een af gewelddadig was.”
“Maar, ons is nie hier om enige party te konfronteer nie... want ons het geen inligting nie.”
Die ANC sê werkers mag vir hul regte veg, maar nie ten koste van mense se lewens nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA