Lokval vir polisiebeampte wat dwelms smokkel
2011-05-09 18:53
Kaapstad - ‘n Wes-Kaapse polisiebeampte is Maandag daaraan skuldig bevind dat hy dwelms na gevangenes in aanhoudingselle by die hof gesmokkel het.
Sers. Thembinkosie Moriat Keya, wat by die landdroshof in Khayelitsha gebaseer was, is in die spesiale hof vir kommersiële misdaad in Bellville skuldig bevind.
Landdros Amrith Chabillal het die saak tot 21 Junie uitgestel vir vonnisoplegging.
Keya wou aanvanklik onskuldig pleit, maar het na aanleiding van raad van sy regsverteenwoordiger, Shamiema Petersen, van plan verander.
Max Orban, aanklaer, het aan die hof gesê toestemming is in Augustus verlede jaar gegee vir ‘n geheime operasie om korrupte polisiebeamptes uit te snuffel.
Luidens die klagstaat is ‘n lokval deur ‘n polisiekaptein, wat van twee agente gebruik gemaak het, gestel.
Die kaptein het dwelms en kontant vir gebruik in die operasie gekry.
Hy het R1 000 kontant en ‘n pakkie tik aan een van sy twee agente gegee. Dié agent het dit aan Keya oorhandig, wat dit aan die tweede agent, “Otto”, gegee het.
Otto was in dié stadium in die selle vir ‘n denkbeeldige saak.
Luidens die klagstaat het Keya ingestem om die tik na Otto te smokkel vir ‘n beloning van R500.
Otto het skaars die tik in die selle ontvang toe Keya in hegtenis geneem is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA