Lisensiebedrog 'moet ondersoek word' – Ndebele
2011-10-18 22:05
Johannesburg – Die minister van vervoer, Sbu Ndebele, het Dinsdag ‘n ondersoek geloods na vervalste leerders- en bestuurderslisensies in Johannesburg.
“Bedrog en korrupsie sal nie by enige toetssentrum geduld word nie,” het hy in ‘n verklaring gesê.
“...Ons sal niks onbeproef laat in sulke kwessies nie. Dié wat omkoopgeld aanvaar en dié wat dit aanbied sal met die volle mag van die gereg te doen kry.”
‘n Berig Dinsdag in The Star het onthul dat vervalste lisensies vir tussen R800 en R4 500 verkoop word by vier van Johannesburg se vyf toetssentrums.
Dit word hoofsaaklik gereël deur motorwagte en bestuurskole wat saam met eksaminators van die sentrums werk, het die koerant berig.
Die nasionale departement van vervoer het gesê verskeie beamptes en lede van die publiek is reeds in hegtenis geneem in verband met motor- en bestuurderslisensies in die afgelope jaar.
Octavia Mamabolo, provinsiale woordvoerder van die departement, het gesê sommige regeringsbeamptes is ook betrokke by die reël van hierdie lisensies.
“Ons gaan werklik onkonvensionele werkswyses moet toepas,” het sy gesê.
Sommige toetssentrums kan dalk selfs gesluit word.
“Mense vind gedurig nuwe maniere om die stelsel te klop.
“Dit is werklik ‘n probleem vir die departement. Ek gaan dit nie ontken nie.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA