Lisensie-sindikaat in Stellenbosch gesink
2009-11-17 13:56
Johannesburg - Vyf mense, waaronder drie verkeersbeamptes, is in Stellenbosch in hegtenis geneem vir die handel in en die uitreiking van vervalste lisensies.
Logan Maistry, 'n woordvoerder van die departement van vervoer, het gesê die ander twee mense wat in hegtenis geneem is, is die eienaar van 'n bestuurskool en 'n taxibestuurder.
Tussen April 2005 en September 2009 is 2022 mense en 350 regeringsbeamptes aangekla vir vervalste leerlingrybewyse en bestuurslisensies.
Jeremy Cronin, adjunkminister van vervoer, het Dinsdag die inhegtenisname van die beweerde Stellenbosse sindikaat verwelkom.
"Meer mense in ander provinsies gaan binnekort in hegtenis geneem word. Ons gaan doen wat ons kan om die skuldiges te laat boet."
– Sapa